skool wapen park

Skool naam

Laerskool Park

Kaapweg 49
Mosselbaai
Posbus 96
6500
 

Graad 6-kamp

Die Graad 6-leerders gaan jaarliks aan die einde van die derde kwartaal op ’n leieridentifiserings-kamp.  Hierdie jaar was geen uitsondering nie.

Hierdie jaar was die kamp by EKSDERDE (Yellow Woods Camps & conferences) net buite Groot Brak.  Asemrowend kan nie die uitsig, ligging en natuurskoon genoeg beskryf nie.  Ons was so na aan die natuur en God!  Die leerders het renosters en hul kalfies op pad daarheen gesien, sebras, volstruise en hul kuikens, bontebokke, elande en ‘n kameelperd het ook kom groet. 

Barend Jordaan van Cornerstone Adventures was hierdie jaar die fasiliteerder.  Wat ‘n voorreg was dit nie!  Die graad 6’s het soveel leiding gekry en kommunikasievaardighede aangeleer!  Die goeddeurdenkte spanaktiwiteite was vetpret waar LEER en ONTWIKKEL spelenderwys plaasgevind het.  Soveel lewenslesse met Christelike waardes is gedeel en oorgedra.  Elke leerder het hom-/haarself verseker beter leer ken, nuwe maats gemaak, geleer van leierskapvaardighede en pret gehad.

Die akkommodasie was fantasties – skoon, genoeg slaapplek en elke kamer het sy eie badkamer gehad!  Lesings is in die saal aangebied waar hulle ook ‘n waardegedrewe en inspirerende film gekyk het. 

Die kos was WOW!  Oom John en sy span het die leerders met smullekker kos, nagereg en warm sjokolade bederf.  Daar was ook ‘n snoepie! Die potjiekoskompetisie het tot groot opgewondenheid en spanwerk gelei. 

Die leerders het heerlik afgekoel in die rivier en tradisionele modderbad!

Baie dankie aan ons Hemelse Vader wat ons behoed en bewaar het, ons skoolhoof wat die geleentheid moontlik gemaak het, al die ouers wat hul kinders laat kamp het en al die onderwysers wat die kamp oorleef het.

Banner